Vir die welgestelde sakeman, Adam Swart, kom geloof egter nie so maklik nie.
Dis juis hoekom sy dogter, Lea, en haar ma van hom vervreem is; sy
wêreldbeskouing laat nie plek vir wonder nie. Wanneer Lea se ma egter sterf,
gryp Adam die kans om sy verhouding met sy dogter te herbou.
Hulle Wildekus-wegbreek het skaars begin wanneer ’n groep rondswerwende
gelowiges reg langs hulle kom laer trek met ’n versameling voos en vodde
karavane. Kort daarna, onder die wakende oog van hulle jong, imposante leier,
begin die luidkeelse gesanik, nagtelike kruisvure en waansinnige seedopery. Dis
alles net te veel vir Adam, en sy frustrasies loop oor in ’n ernstige kopstampery
met Lea. Die volgende oggend is die karavane skoonveld. Sy dogter ook.
Na bykans vier jaar se gesoek, gee Adam sy weelderige lewe in die stad prys. Hy
moet terug Wildekus toe, hy moet vir Lea gaan vind as hy ooit weer vrede in sy
gemoed wil hê. In die diep Transkei beland hy op die spoor van Die Lewende
Vlees, ’n sekte swerwers wat daar tussen die heuwels hulle eie stukkie paradys
probeer staanmaak.
Maar elke swerwer het sy storie, elke paradys sy slang.
Authors | |
---|---|
Language | |
Publisher | |
ISBN | 9780639607481 |
Number Of Pages | 320 |
File Size | 0.98 mb |
Format | EPUB |
Edition | 1 |
Published | 01-07-2021 |