Frankie se gesin is anders. Behalwe dat haar pa soos Atilla die Hun lyk, met sy wilde hare en harige voorarms, kom hy van Vlaandere en hy praat nog steeds Nederlands – en soms ’n bietjie Frans as hy Frankie wil treiter. Hy ry met ’n Big Boy-bromponie en het sy eie kookskool. Haar ma, weer, het in die hippie-jare vasgesteek, dra batik-broeke en het die hele planeet en al sy bewoners lief. Dis waarom sy lensies eet en V8-groentesap drink.
En Frankie? Sy is mal oor skaatsplank ry en kunsflieks. Sy wonder oor die papier-rot en die Banksy-boek wat sy een oggend op haar balkon kry. En sy wonder oor Milan, wat van Pole af kom – die geheimsinnige, stil ou in haar klas met die swart hare en bleek vel.
Milan se pa is liewer vir syfers as vir woorde of ander mense. Sy mond glimlag altyd, maar sy oë wonder altyd. Hy is ’n wiskunde-onderwyser wat elke dag ’n swartraambril en ’n strikdassie dra. Min mense sal vermoed dat hy ’n swart gordel in judo het.
Milan se ma is weg toe hy ongeveer twee jaar oud was.
En Milan? Hy neem kitaarlesse, hou van flieks, old school-musiek soos Pink Floyd en Led Zeppelin en sny snags stensils uit karton. Hy wonder wat deesdae met hom aangaan – is hy siek of verlief? Wat dit ook al is, dit het begin die oomblik toe hy Frankie by die Waterfront gesien het …
Ek was hier het in 2011 die eerste prys in LAPA Uitgewers se jeugromanwedstryd losgeslaan. Die prysgeld van R25 000 is tans die grootste wat op die spel is vir ’n Afrikaanse jeugroman. Die beoordelaars het Ek was hier as ’n moderne straatkuns-liefdesverhaal beskryf: “In hierdie jeugroman word graffiti as ’n buitengewone kommunikasiestyl van liefde en opstand aan die karakters en leser geopenbaar. Die boek prikkel al die sintuie, maak nuwe wêrelde oop vir die leser en boei jou enduit. Die wipwaentjierit van emosies wat die uitheemse, waaghalsige karakters ervaar, betrek die leser ten volle. Beslis ’n boek vir slim tieners wat op soek is na ’n ‘anderse’ leeservaring. ”