Wanneer Ruby Swart se ma onverwags sterf, is sy meer as ooit vasbeslote om uit te vind wie haar biologiese pa is. Al is dit net om vir die man wat haar ma as matriekmeisie in die steek gelaat het en nooit sy dogter se bestaan erken het nie te sê hoe sy hom verag. Met harde werk en verbete wilskrag het Ruby Swart vir haar ’n lewe gebou. Eers as internasionale model en deesdae as sakevrou met haar eie Black Ruby- klerereeks en boetiek in die Kaapse Waterfront. Maar sy sal nooit volledig mens voel terwyl vyftig persent van haar genepoel ’n raaisel is en die gevoel van verwerping soos ’n meulsteen om haar nek hang nie. In haar soeke na die waarheid kruis haar pad met twee mans s’n: Die konserwatiewe dokter Joshua Durant wat haar ma se vertroueling was en Ruby vermoed meer omtrent haar ma se verlede weet as wat hy laat deurskemer. En Vincent Boonzaaier, haar oorlede ma se enigmatiese buurman wat rillers vir die internasionale mark skryf en ’n kluisenaarsbestaan op die klein Bolandse dorpie voer. Reeds met die eerste oogopslag voel Ruby ’n geweldige aantrekkingskrag vir hom. Asof haar lyf en psige hierdie vreemdeling op ’n primitiewe vlak herken.
In haar soeke wat van Eden, haar geboortedorp na Londen lei, begin Ruby besef dat onskuldige mense dalk kan seerkry. Moet sommige geheime nie eerder geheime bly nie? is ’n vraag waarmee sy begin worstel. Hoewel haar gevoelens vir Vince verdiep, moet sy die waarheid in die gesig staar: ’n Vrou kan nie teen ’n man se gewete vir sy liefde baklei nie.
Authors | |
---|---|
Language | |
Publisher | |
ISBN | 9780799379464 |
Number Of Pages | 216 |
File Size | 1.33 mb |
Format | EPUB |
Edition | 1 |
Published | 01-05-2016 |