Harriet Christou vertel die sonderlinge verhaal van haar lewe met skisofrenie, en sy doen dit onverskrokke en openhartig. Sy vertel van die tuimelrit deur die dieptes van ontreddering en ellende, van herhaalde mislukte behandeling totdat sy korrek gediagnoseer is en die regte medikasie begin kry het, van die desperate soeke na begrip en aanvaarding, ‘n soeke wat haar keer op keer in nog dieper ellende dompel. Sy vertel van die selfmoordpogings, die verbrokkeling van haar gesinslewe, haar desperate soeke na God en die daaglikse stryd om te probeer onderskei tussen wat werklik is en wat nie.
Dit is ‘n onthutsende verhaal. Skokkend. Maar ook ‘n verhaal van volharding, hoop, menslikheid en begrip vir die kompleksiteit en broosheid van die menslike lewe.