Met hierdie ware verhaal onthul die akteur en televisie-vervaardiger Christo Gerlach die skokkende werklikhede agter die glans van die vermaaklikheidsbedryf.
Hy het ver gekom sedert sy onskuldige Vrystaatse jeug. As akteur in televisiereekse soos Piet-my-vrou, Sterretjie en Transkaroo, tot vervaardiger van top-reekse soos Idols, Glitterati en Tonge los is hy kop eerste in ‘n verloklike, gevaarlike wêreld gedompel. Hy ontbloot sonder skroom wat agter die skerms van Suid-Afrika se vermaaklikheidsbedryf aangaan en praat reguit oor sy verslawings aan kokaïene en Stilnox. Dan is daar die skim van Alfredo – die man wat in sy donkerste ure deel van sy vernietiging was.
Christo se reis neem hom van diepste wanhoop tot uiteindelike redding.