’n Fratskoeël. Dis wat die verslaggewers dit genoem het. Die een wat hulle nefie, Jaco, in die voorkop net bo sy oog getref het. Lenore, Tarien en Bella moes verklarings aflê. Jaco se ouers het die drie niggies vir sy dood verantwoordelik gehou. Die leuens en misleiding rondom die noodlotskoeël sou egter hulle lewens onherroeplik verander.
Jare later, wanneer een van Bateleur se renosterkoeie gestroop word, word Lenore se hulp ingeroep om die renosterkalfie te help versorg. Haar droom is om ’n toevlugsentrum vir diereslagoffers van wildmisdaad te stig. So beland sy weer op Bateleur. Daar waar die ongeluk gebeur het. Daar waar haar lewe so ingrypend verander het. Wie moet die skuld kry vir wat op daardie tragiese dag in die opstal op Bateleur gebeur het? Kan mens skuld aangee soos wat jy ’n baadjie oor iemand se skouers hang?
Tarien droom daarvan om ’n skuilhuis vir die slagoffers van mensehandel teen die grens te vestig. Maar nou is sy al hoe minder oortuig sy is waar sy moet wees. Haar gebed is fluisterend: Vader, hierdie pad is langer as wat ek gedink het. Gee my krag. Ek het U so nodig. As sy langer hier wil bly sal sy moet vashou aan hoekom sy in die eerste plek Laeveld toe gekom het. Om van blaam vry te kom en die waarheid te laat seëvier. Tans voel sy net hoe sy haarself meer en meer skuld toe-eien.
Bella is ’n misplaaste stadsmeisie in die platteland. Sy dra ontwerperspakkies. Hofsaak ná hofsaak maak sy seker die waarheid seëvier. Met Bella praat jy nie oor geloof of die verlede nie. Die tweede het haar hart vir die eerste toegemaak.
Wat ’n driestuks is hulle tog nie, onlosmaaklik verbind deur ’n tragedie. En nou is hulle deur Tjaart van der Walt, wildboer en een van die rykste suikerrietboere duskant Komatipoort, bymekaar gebring om die bande te knip of te bevestig.