Sy’s ’n konsentrasiekampkind. Hy’s ’n Ier wat in die oorlog teen haar mense geveg het. Haar bitterheid kan Willemien nie onderdruk nie. Haat soms. Hy’s ’n moordenaar van haar mense. Hoe kan sy hom liefhê? Maar hoe kan sy nie? Aidan Connelly was vir haar voorbestem. Van voor die skepping. So wéét haar hart, haar lyf. Maar haar verstand hou vas aan die onreg aan haar mense, die ellende, die sterftes. Sy sal Theron kies, taalstryder, patriot. Maar tweede beste, waarsku dié wat weet haar, bring net hartseer mee. Dit sien sy ook. Sý wéét dat sy vir ewig met die pyn van haar verlies sal moet saamleef. Maar hoe?
Die Davelvroue bestaan uit sewe boeke: Tamara, Willemien, Annabella, Deborah en Isabelle, Maryn en Fleur. Die reeks, wat in 2006 verskyn het, word nou heruitgegee op aandrag van lesers. Benewens die kwessie van vroue se bemagtiging, spreek Die Davelvroue ook eg Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse geskiedkundige kwessies op subtiele wyse aan, alhoewel die genre steeds fokus op vroue se belewing van die liefde.
In Willemien (1909, Tamara se broerskind) speel die taalstryd ’n rol. En die romantiese vraag hier is: Wat gebeur as ’n vrou, wat ’n konsentrasiekampkind was en wie se hele familie feitlik uitgewis is deur die Engelse, verlief raak op ’n Ier? En as sy boonop ’n stryder vir die taal is en haar liefde vir die man verg dat sy Ierland toe moet trek?