Hul persoonlikhede knoop en skuur behoorlik – sy, die opstêrs gravinnetjie, en hy, die boertige bywoner.
Op Orange Hall moet hulle mekaar verduur. En al probeer Isabelle hoe hard om hom te vermy, is Arendt de Leeuw oral … met sy verpestelike grys verf in haar ateljee, met sy groot lyf in die kleigat, met sy slim hand in haar stillewes.
Agter haar hovaardige houding knak Isabelle mettertyd, swig sy voor die man met die terg op sy tong, die spot in sy oë.
Maar Arendt weet – hy moet ’n leeftyd binne ’n paar weke leef, haar ’n herinnering maak, sonder dat sy ook seerkry, want hy het net enkele maande oor.
Die Davelvroue bestaan uit sewe boeke: Tamara, Willemien, Annabella, Deborah en Isabelle, Maryn en Fleur. Die reeks, wat in 2006 verskyn het, word nou heruitgegee op aandrag van lesers. Benewens die kwessie van vroue se bemagtiging, spreek Die Davelvroue ook eg Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse geskiedkundige kwessies op subtiele wyse aan, alhoewel die genre steeds fokus op vroue se belewing van die liefde.